Jongste nuus:
» Die Rekord Koerant berig .... xxx
» Dankie aan my wonderlike Borge!
» ATKV Lier toekenning
 - Nog nuus artikels

Huidige gebeure:
» Live op Jukebox Kyknet
» Gospel Fees Zastron
» Gospel fees saam met Manuel Escorcio
 - Nog gebeure

Biography

 


Sy is 'n pragtige jong meisie van Port Elizabeth en sing op openbare verhoë sedert 1991. Sy het groot geword in 'n pastorie aangesien haar vader die leraar van die Ned Geref Kerk DeDuin in Humewood is. Haar liefde vir musiek en sang is dus in die kerk gestimuleer en het ook aanvanklik net Gospel gesing maar toe sy by Setlaarspark Laerskool vir die eerste keer op die verhoog verskyn het, het sy net geweet dat dit haar passie is en dat sy sang haar loopbaan gaan maak! Esti was die Hoofdogter in die skool wat haar op die weg van haar loopbaan geplaas het.

Sedert daardie eerste applous in die skoolsaal van Setlaarspark het sy musiek as skoolvak op Hoërskool geneem met haar stem as instrument. Hierdie formele skoling met die bekende Mari Hayward as leermeester was van onskatbare waarde want dit dien nie net as basis nie, maar het duidelike rigting aan haar drome en visie om 'n Wêreldster te word gegee!
Die volgehoue ondersteuning en aanmoediging van haar Alma Mater, Setlaarspark en veral mev Jordaan het werklik as inspirasie gedien om vol te hou in hierdie baie moeilike en strawwe verhoogwêreld deurdat hulle haar telkens weer en weer gevra het om te kom optree.

Dit het die weg gebaan dat sy alreeds die verhoog kon deel met Suid-Afrika se super sterre soos Kwaito-koning Mandoza(vir die Nelson Mandela Musiekfees op Telkompark in Port Elizabeth) en Suid-Afrika se eerste wenner van Pop Idols, Heinz Winkler(World Cricket Cup Roadshow in Port Elizabeth).Verder het sy ook by die bekende "Splash-festival" o.a saam met Kurt Darren en Arno&Susan die verhoog gedeel. Esti het ook saam met ander Kunstenaars by Shoprite/Checkers se Boerewors kompetisie by die Boardwalk opgetree. Esti het ook die Naionale Besigheidsvroue konferensie in die Boardwalk op hulle voete gehad met haar optrede. Esti het gewoond geraak om voor gemengde skares van tot 40,000 mense op St Georges strand op te tree tydens die Nuwejaarsfees.

Esti het ook al in België opgetree in St Karolus Kasteel van St Niklaas asook op die bote in Luik. Een van haar Afrikaanse liedjies het ook oor die Nasionale Radiostasie BRT gespeel.

Dit was egter in 2003 toe sy 'n deurbraak gekry het deur saam met Suid Afrika se top produsent/komponis, Gabi Le Roux te kon werk. Gabi het saam met bykans elke top Suid-Afrikaanse ster gewerk en was verantwoordelik vir die fenomenale opgang tot sterstatus van die Superster van Kwaito Mandoza. Saam het hulle die " SA Song of the Year" in 2001 en 2002 na mekaar verower. Van die begin van die samewerking tussen hom en Esti was sy oë op die Internasionale mark gerig en dan veral Europa en Britse Eilande. Met die wete dat hierdie een van die moeilikste markte is om te penetreer het hy geweet dat slegs die heel beste sal goed genoeg moet wees en verder dat die produk iets NUUTS EN UNIEK sal wees.
Met 'n eie "Suid-Afrikaanse" wortels in gedagte het hy met 'n meesterstuk na vore gekom wat werklik iets nuuts en vars in die dansmusiekwêreld ingebring het. Hy het dit bereik deur die huidige rigting van die dansmusiek in Europa te behou, maar sy eie unieke styl behou en die musiek geskryf spesiaal vir Esti se unieke begaafde stem en dit gekombineer met die tradisionele manstemme van die Afrika Akapella groep, Abaqondisi Brothers. Hierdie groep se genre word genoem Isicathamiya of Mbube.
Abaqondisi Brothers (Xhosa groep) kom van die Paarl af maar is ook bekend in Europa deurdat hulle verskeie toere al onderneem het na Nederland, Denemarke, Noorweë asook Engeland en die VSA. Hulle was ook van die sterre wat opgetree het by Nelson Mandela se 80ste verjaardag. Hulle staan onder die leiding van Mongezi Hermans.

Met die vokale talent van die pragtige blonde blouoog Esti gemeng met die pragtige stemme van Abaqondisi het Gabi besef dat hy 'n wenresep beet het wat hom geweldig opgewonde gemaak het en gestimuleer het om die Treffer "Blessed" die lig te laat sien met twee ander wat daarop gevolg het met die oog op die volledige album.
Die hele projek is voorgelê aan Karl Anderson van Just Music wat onmiddellik daarvan gehou het. Hy het dit saam geneem na die Musiekfees in Cannes Frankryk waar Nic Halkes van Ministries of Sound in die VK daarvan gehou het. Hy het 'n kontrak aan Esti aangebied onder die Incentive Etiket, vir die eerste enkelsnit CD. Dit word tans in al die top klubs van Engeland gespeel en dit was so gewild dat Esti die HEEL EERSTE Suid-Afrikaanse Kunstenaar geword het wat op die gesogte Ministry Of Sound Compilation 2005 Edition opgeneem is, voorwaar 'n wonderlike prestasie!

"Blessed" word op al die Top Radiostasies gespeel, ook ons eie Radio Algoa en BayFM en wat meer is dit het al die trefferlyste gehaal. Dit het selfs nommer 3 behaal van die Nasionale Radiostasie 5FM se Top40! Dit met al die mededinging van die oorsese kunstenaars. Haar tweede enkelspeler "Shake my body" was baie gewild op KFM asook in die Oos-Kaap se twee senders, Algoa en BayFM.

Die volledige CD is gedurende November 2005 deur EMI vrygestel.

Esti was ook in Nieu Seeland waar sy opgetree het by die "Out of Africa"-Fees in Auckland om die Tienjaar van Demokrasie in Suid-Afrika te vier. Dit was 'n baie hoë profiel geleentheid wat deur ons eie Hoë Kommissaris vir Australië en Nieu Seeland, Anthony Mongalo geopen is.(Die Hoë Kommissaris het 'n spesiale brief van waardering aan Esti gestuur!) Lede van die Nieu Seeland se parlement en ander hoog geplaaste was teenwoordig en natuurlik meer as 20 000 feesgangers.

Daarna is sy na die Kiwikasiefees waar sy saam met Coenie de Villiers en Karla du Plessis opgetree het voordat sy die Noordelike Eiland saam met Karla getoer het. Sy het telkens die Afrikaanse gemeenskap op hul voete gehad met die heerlike oorspronklike dansmusiek, maar dit was die nuwe verwerking van die ou treffer "Ek verlang na jou"wat die trane laat vloei het!

Esti het ook suksesvolle optrede saam met ander kunstenaars soos Arthur tydens die lewende Lottotrekking by Hobie Strand in Port Elizabeth gehad.

Esti is so begaafd dat sy bykans enige genre kan baas raak. Sy het ook al verskeie oorspronklike Afrikaanse liedjies en Gospelliedjies op haar kerfstok. Haar jongste Album "Geen Geheim" is gedurende 2008 vrygestel en die ATKV-Liertoekenning ontvang. Haar trefferliedjie "Staan Vas" het o.a 16 weke die nommer een posisie op BayFM en Radio Ripple beklee.

Sy het ook op die gewilde program van Steve Hofmeyr, "Dis hoe dit is met Steve", "Saturday NiteLate Show van Darren Scott", "Kwêla" van Coenie en "Voorblad" op KykNet;.One Gospel

Daar is verskeie artikels oor haar geskryf in Rapport, Die Burger, The Eastern Cape Herald asook 'n getuienisartikel in die prestige Vrouetydskrif FINESSE; Keur; Today en Lig

Sy het ook al by verskeie feeste opgetree saam met al die groot name in die industrie om net 'n paar te noem:Kiwikasiefees(Auckland NS); Splashfestival (Port Elizabeth); Kwênafees(Lydenburg); Pinksterfees(Belville); Wildsfees(Kirkwood), Gariepfees(Kimberley) en Aardklop in Potchefstroom.

Sy het ook 'n kommersiële CD op die rakke wat bestaan uit oorspronklike Afrikaanse liedere geskryf deur Gabi le Roux wat ook duette insluit , onder die naam: "Sokkie vol Liefde" deur Boots&Blomme.

Dan tree sy gereeld op saam met die "Four Classics" wat klassieke nommers en opera liedere insluit. Sy het al saam met hulle by die "National Womens Business Convention" in die Boardwalk, Port Elizabeth opgetree asook by die Roosfees in Addo en ander plekke van belang in die Oos-Kaap.

Haar jongste aksie is haar eie droom wat sy noem: "Dare to Care" na aanleiding van haar musiekvideo  "Gee Jouself".

Haar jongste optredes sluit in die feesseisoen in Jeffereysbaai asook die Susca Watts Akedemie se spesiale geleentheid by die Performer Teater in Pretoria, waar al die finaliste vir Meneer Suid-Afrika opgetree het. Sy was in Maart MC & opgetree by Meneer Suid-Afrika kompetisie by die Silverstar Casino &  Mnr en Mej Vrystaat.

Esti is ten volle opgelei as TV-aanbieder deurdat sy die kursus by Oncue in Randburg suksesvol voltooi het, en hoop om eersdaags in haar eerste volledige filmrol te speel.

Esti is tans besig met die beplanning van haar nuwe CD deur Fantasia Musiek, wat baie opwindend is en haar loopbaan op 'n nuwe vlak sal plaas.

Tuisblad | Biografie | Musiek | Lirieke | Kalender | Nuus | Fotos | Boodskappe | Kontak

Powered by PE Church Net / Easy CMS Website Builder